Les: Voortrekkerkode 1

Voortrekkerkode 1: ‘n Voortrekker glo in die drie-enige God en dien Hom

Ons gaan drie items maak wat die drie-enige God uitbeeld.

Wat het jy nodig? Jou verbeelding! Jy kan enigiets gebruik om vir jou hierdie drie items te maak.

Ons het wel die volgende gebruik:

  • Papier/karton (wit vir jou duif, vir jou kroon en kruis kan jy enige kleur gebruik
  • Skêr
  • Kleurpotlode/kryte/veltpenne
  • Gom (houtlym indien jy stokke en blare wil gebruik as versiering vir jou papier kruis en kroon)
  • Enige versierings vir jou kroon en kruis (stokkies, blare, sade, linte, knopies ens.)

Die Kroon – God die Vader

Johannes 1:1 sê: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God”

God was eerste daar, Hy het alles geskape met woorde uit Sy mond, van die son en sterre tot ons as mens. Hy is ons Vader. Ons Koning. Ons is almal God se kinders, koningskinders. Onthou jy is so baie spesiaal vir God en Hy is lief vir jou nes jy is.

Een A4 vel kan twee klein krone maak. Jy kan ook die A4 in twee stroke sny en dit aanmekaar bind indien jy ‘n groter kroon wil maak.

Teken enige patroon wat jy wil, kleur dit in of versier dit. Sny dit uit en plak die kante teen mekaar vas om die kroon te vorm.

Die Kruis – God die Seun

Johannes 3:16 sê: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

God het ons so lief gehad, dat Hy Sy enigste Seun vir ons gestuur het om aan die kruis vir ons sondes te sterf. Sy naam was Jesus. Die kruis as simbool vir Jesus Christus herinner ons hieraan.

Ons het twee voorbeelde van kruise wat ons gemaak het.

Voorbeeld 1: Teken vir jou ‘n kruis op ‘n vel papier/karton. Jy kan dit teken so groot as wat jy wil.

Hier het ons die kruis opgedeel waar ons eenkant vir ons patrone geteken het om in te kleur en die res met stokkies, saadjies en blare versier.

Voorbeeld 2: Maak vir jou ‘n kruis met stokke en ‘n stuk tou. Maak die twee stokke in ‘n kruisvorm vas deur die Kruisvaswoel te gebruik. Die Kruisvaswoel begin met die Kniehalterslag en eindig met die Skuifknoop.

Videos wat vir jou wys hoe om die knope te maak is op ons webwerf beskikbaar onder Dokumentasie >> Hulpmiddels.

Direkte skakels:

Die Duif – Die Heilige Gees 

Jesus sê in Johannes 14:26: “maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in My Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”

Die simbool wat ons aan die Heilige Gees bind is ‘n wit duif. Die Heilige Gees is ook soos ‘n duif wat op die wind deur die wêreld vlieg, Hy is orals om ons.  Ons kan die Heilige Gees voel soos ‘n heerlike warm drukkie wat jou toevou of ‘n opgewondenheid wat jy nie kan beskryf nie, omdat jy weet Jesus het jou so baie lief!

Daar is twee baie maklike maniere om vir jou ‘n duif te teken. Met jou voet of met jou hand!

Die vlerke vir altwee maniere word dieselfde gedoen, so kom ons vou eers ons vlerke. Gebruik 1 A4 vel wit papier/karton. Hou die lang kant na jou toe en konsertina vou die hele vel. Die vlerke kan na die tyd bietjie korter gesny word vir die kleiner hande en voete.

Om die vlerke se middelpunt maklik te kry, vou dit in die helfte.

Duif Voorbeeld 1: met jou hand

Hou jou hand soos in die eerste prent hierbo, met jou duim uitgestrek so ver jy kan en die res van jou vingers styf teenmekaar.

Trek al om jou hand af, tot net teen jou arm. Teken by jou duim die duif se oog en bekkie. Jy kan die bekkie inkleur.

Teken die opening waar jou arm was met ‘n effense boog toe om die duif se bors te vorm. Neem jou vlerke en hou dit soos in die eerste prent hierbo in die middel van jou duif se lyf. Merk vir jou ‘n lyn, effens langer as jou vlerke. Sny net op daardie lyn en druk dan jou vlerke deur soos in die laaste prentjie hierbo. Jy kan ook by jou duif se stert lyne teken, soos in die middelste prent.

Duif Voorbeeld 2: met jou voet

Trek al om jou voet af. Teken by jou hak die duif se oog en bekkie, by jou tone se kant kant jy lyne inteken vir stertvlerke en kleur jou bekkie in. Neem jou vlerke en hou dit soos in die laaste prent hierbo in die middel van jou duif se lyf. Merk vir jou ‘n lyn, effens langer as jou vlerke.

Sny net op daardie lyntjie en druk dan jou vlerke deur soos in die laaste prentjie hierbo.

LAASTE STAP

Stuur vir ons ‘n foto waar jy by jou pragtige kunswerk staan of dit vashou.

Plaas die foto op jou span se WhatsApp groep, of stuur per e-pos aan info@rooihuiskraal.org.za

Die les is ook in pdf formaat beskikbaar: Les – Voortrekkerkode 1 [748kb]

Sê jou sê..

%d bloggers like this: