Les: Voortrekkerkode 3

Voortrekkerkode 3: ‘n Voortrekker is gehoorsaam.

Vandag gaan ons leer hoe om ‘n gehoorsaam-speletjie te speel.

Maar eers…

Wat beteken dit om gehoorsaam te wees?

Om gehoorsaam te wees beteken om te luister en te doen wat van jou gevra word. Moet ons alles doen wat iemand vir jou sê of vra om te doen? Nee, as dit iets is wat verkeerd is of voel, mag ons nee sê.

Maar hoe weet ons wanneer iets verkeerd is? As jy nie seker is nie, is daar een maklike manier om jouself te toets. Vra vir jouself of jy vir Jesus sal nooi om dit saam met jou te doen. As jou antwoord nee is, dan is die kanse groot dat dit verkeerd is. Jy kan ook ‘n ander grootmens gaan vra as jy nie seker is nie.

“Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers in eenheid met die Here, want dít is regverdig.” Efesiërs 6:1

Om gehoorsaam te wees aan jul ouers is ook om gehoorsaam te wees aan die Here. Om gehoorsaam te wees aan jul ouers beskerm julle ook teen gevare. Jul onthou seker toe mamma of pappa gesê het: Moenie aan die stoof raak nie, dis warm. Moenie met kos in jou mond praat nie. Kyk links en regs voor jy oor die straat loop. Was jou hande voor jy eet.

Wanneer jy jou ouers eer deur aan hulle gehoorsaam te wees, eer jy ook die Here, want dit is Hy wat jou beveel om aan hulle gehoorsaam te wees.

Gehoorsaam-speletjie.

Dit werk dieselfde as “Simple Simon says” maar ons noem dit;

‘n Voortrekker…

Een persoon gaan die bevel-offisier wees wat voor staan en die bevele gee. Al die ander spelers moet die bevel-offisier gehoorsaam deur te doen wat hy of sy sê. Maar hul moet net die bevele uitvoer as die bevel-offisier begin met; ‘n Voortrekker…

Bv. die bevel-offisier sê: ‘n Voortrekker staan op aandag. Dan moet die spelers op aandag staan.

As die bevel-offisier sê: spring op en af (sonder ‘n Voortrekker vooraan) en ‘n speler spring dan op en af, dan is daardie speler uit. Die laaste een oor, kry volgende beurt om die bevel-offisier te wees.

Enige bevele kan deurgegee word. Hier is ‘n paar voorbeelde: ‘n Voortrekker…

…staan op aandag
…raak sy tone
…staan op een been
…klap sy hande
…spring op en af
…raak aan sy neus
…draai in die rondte
…gee een tree links (of regs)

LAASTE STAP

Stuur vir ons ‘n foto of video waar jy saam jou gesin speel.

Plaas die foto of video op jou span se WhatsApp groep, of stuur per e-pos aan info@rooihuiskraal.org.za 

Die les is ook in pdf formaat beskikbaar: Les – Voortrekkerkode 3 [145kb]

Sê jou sê..

%d bloggers like this: