Rooihuiskraal Gesinskamp – 3 tot 5 November 2017

rhk-gesinskamp-2017

Met die Voortrekkers se gesinsbeleid in gedagte, het ons besluit om ons 2017 kommando kamp ‘n gesinskamp te maak.

Dit was ‘n reuse sukses, en die kinders kon nie uitgepraat raak oor hoe lekker die kamp was nie. Hul het nie net tyd saam hul spanmaats spandeer nie, maar ook tyd saam as gesin. Beide volwassenes en kinders het saam, sowel as in hul portuurgroepe hegte bande gevorm.

Ons was geseën met die pragtigste sonsondergange en die volmaan het soos God se lig in die aand oor ons gewaak.

Ons het visgevang, diere gevoer, soos marmotte in die marmothok rondgekruip. Kleilat en speletjies gespeel, in die dam geswem en geroei tot die son gesak het. En natuurlik lanternbekruip. Dit was nogals ‘n uitdaging so onder die volmaan, maar nietemin ‘n uitdaging wat die Voortrekkers met alle mag aanvaar het en hul baie goed van hul taak kwytgeraak het.

Ons het geleer dat die klein dingetjies wat ons doen, die wêreld se verskil kan maak. Dat die gebede wat ons so stil-stil by ons eie bid, ook die wêreld kan verander. Dat ons enigiets kan vermag deur God, saam as ‘n gesin, as ‘n familie, as vriende en as Voortrekkers.

Oom Philip het die Saterdag vir ons kom kuier en ons almal bederf met die heerlikste potbrood wat ons saam ons potjiekos geniet het. BAIE dankie Oom Philip, daar het nie ‘n krummel oorgebly nie!!

Baie dankie aan al die organiseerders en almal wat kom saam kamp het, dis julle wat die kamp gemaak het wat dit was.

Dankie ook aan almal by Wonderland 45 oord wat ons met ope arms verwelkom het.

Net voor ek by die fotos kom, deel ek graag die volgende.

Vir ons hier by Rooishuiskraal Kommando ag ons die gesin as ‘n belangrike bousteen tot ons kommando. En ons streef daarna om Die Voortrekkers se Gesinsbeleid uit te leef in ons aktiwiteite, gemeenskapsprojekte en kampe.

  1. Die Voortrekkers glo dat godsdiens en ’n lewe gegrondves op die Woord van God die fondament van die huisgesin is.
  2. Die Voortrekkers glo dat die huisgesin een van die vernaamste ankers in die behoud van ons kultuur, taal en tradisies is.
  3. Die Voortrekkers glo dat die gesinslewe die vernaamste terrein is waar die beginsels van diens en diensbaarheid uitgeleef kan word.
  4. Die Voortrekkers glo dat die huisgesin die ideale Voortrekkerspan is waar die ideale en doelstellings van die beweging elke dag nagestreef kan word.
  5. Die Voortrekkers glo dat die belangrikste en blywendste stene in die gebou van ’n mooi en kerngesonde karakter in die huisgesin gelê word.
  6. Die Voortrekkers glo dat liefde en onderlinge vertroue die bindende krag van die huisgesin is.
  7. Die Voortrekkers glo dat die huisgesin die vernaamste terrein is om aan mense te leer dat hulle nie alleen regte en voorregte het nie, maar veral ook pligte en verantwoordelikhede wat hul moet nakom teenoor mekaar, hul gemeenskap, hul land en teenoor hul Skepper.
  8. Die Voortrekkers glo dat ouers die stewige ankers vir hul kinders in die huisgesin is en dat hulle daarvoor geëer, gerespekteer en liefgehê moet word.
  9. Die Voortrekkers glo dat die huisgesin die kern van ’n gelukkige en betrokke gemeenskap is.
  10. Die Voortrekkers glo dat die huisgesin moet saam werk, saam speel, saam staan, saam lag, saam treur, saam streef, saam glo, saam dien en saam aanbid en dan ook saam moet Koers Hou!

Voortrekkers is ‘n gesinsaak!

One thought on “Rooihuiskraal Gesinskamp – 3 tot 5 November 2017”

Sê jou sê..

%d bloggers like this: